Dit bly vir enige eienaar ‘n ongemaklike werklikheid. Iemand word op jou perseel beseer of kom selfs tot sterwe. Drie onlangse sake handel met risiko en ondersoek die plig wat op elke eienaar rus om redelike voorsorg te tref om sy of haar perseel vir besoekers te beveilig.

Die eerste geval: Die eienaar, die vakansiehuurder en die besoeker wat by die trappe afgeval het

“The lack of protection on the garage side of the stairs below the gate was an inherently dangerous state of affairs ….” (Aanhaling uit uitspraak hieronder)

Jy het dalk ‘n vakansiehuis wat jy soms verhuur om te help betaal vir die lopende uitgawes van die eiendom.

Oorweeg dan wat in die volgende geval met die eienaar gebeur het: –

Die vakansiewoning by die see is op ‘n steil bult gebou. Om toegang tot die huis te kry, moet jy ‘n lang stel trappe volg. Hierdie huis is oor die Feesseisoen uitverhuur.

Op Oukersaand het twee familielede van die vakansiehuurder kom kuier en die vakansiewoning besoek.

Omtrent 11 uur die aand het die besoekers gegroet. Ongelukkig het een van hulle kort daarna haar balans verloor en van die trap afgeval. Op die spesifieke plek waar sy afgeval het, was daar geen handreëling op die stel trappe nie.

Sy het kort daarna teen die eienaar van die vakansiehuis ‘n eis ingestel vir haar beserings.

Die eienaar het aanvanklik ontken dat daar enige nalatigheid aan haar kant was. Uiteindelik het sy wel toegegee dat sy gedeeltelik nalatig was; sy voer egter aan dat die besoeker bydraend nalatig was en dat dit ook bygedra het tot die besoeker se val. Die eienaar vra dan dat die skadevergoeding tussen die partye verdeel moes word.

Die Hoogste Hof van Appèl het die aangeleentheid aangehoor. Die hof bevind dat die eienaar nie in staat was om enige bydraende nalatige optrede aan die kant van die besoeker aan te toon nie. Gevolglik het die Appèlhof die vorige bevinding van die Hoë Hof bekragtig en bevind dat die eienaar 100% vir die besoeker se skadevergoeding aanspreeklik was.

Die hof meld ook dat dit nie sal help om jou oë te sluit vir ‘n gevaarlike situasie net omdat dit nog nie voorheen enige probleme veroorsaak het nie. Die feit dat niemand nog voorheen by die trappe afgeval het nie, is nie relevant nie. Daar is altyd ‘n eerste keer. Die eienaar moes dit voorsien het en seker gemaak het dat die stel trappe veilig was.

Die tweede geval: Die Ontwikkelaar en die Huiseienaarsvereniging – die pa en die mangat

“A person who creates a situation which could cause a foreseeable injury to another person’s property or person, should take reasonable steps to guard against such occurrence.” (Geneem uit die uitspraak hieronder)

Hier het ons ‘n Nuwejaarsparty gehad wat binne in ‘n veiligheidslandgoed gereël was. Die feesvieringe het ‘n indrukwekkende vertoning van vuurwerke ingesluit.

‘n Pa het sy kinders geneem om die vuurwerke te aanskou. Teen elfuur die aand was hulle op pad terug, toe hy in ‘n oop mangat geval het. Hy het ‘n lang sny aan sy been opgedoen en moes twaalf steke kry om die sny toe te maak.

Hierna het die beseerde pa vir beide die Ontwikkelaar en die Huiseienaarsvereniging in die Hoë Hof om skadevergoeding vir sy beserings gedagvaar.

Die partye het wyd uiteenlopende weergawes oor die aand se gebeure aangebied.

Die hof het uiteindelik die volgende feitebevindinge gemaak:

Ten spyte van die Ontwikkelaar en die Huiseienaarsvereniging se beweringe tot die teendeel, het die hof bevind dat die mangat nie deur enige veiligheidslint afgesper was nie.

Die slagoffer was ook nie onder die invloed van alkohol nie, soos wat hulle aangevoer het nie. Hy het erken dat hy deur die loop van die aand ‘n paar biere gedrink het, maar daar was geen aanduiding dat hy daardeur aangetas is nie.

Die hof bevind dat die Ontwikkelaar en die Huiseienaarsvereniging nalatig was en dat hulle aan die beseerde pa skadevergoeding moes betaal.

Die derde geval: Die kleuter en die visdammetjie

“…..an infant is afraid of nothing and in danger of everything when left to his own devices” (Aanhaling geneem uit die uitspraak hieronder)

Ouers van klein kinders moet baie versigtig wees. Hierdie waarskuwing word hier aan ouers gerig. Hier is ook ‘n aanduiding aan eienaars hoe hulle die risiko kan bestuur deur alle redelike gevare aan besoekers uit te wys.

‘n Kind wat net begin loop het was saam met haar ouers by hul vriende aan huis.

Die eienaars van die woning het die ouers gewaarsku oor die gevare van die visdammetjie op die perseel.

Die kind het in die visdammetjie geval en was vir ‘n tyd onder water. Alhoewel hulle die kind weer aan die asemhaal kon kry, het die kind erge en permanente breinskade opgedoen.

Die pa het ‘n eis vir skadevergoeding ingedien.

Die hof het die eis afgewys. Die hof bevestig dat ‘n eienaar redelike stappe moet neem om toe te sien dat kinders nie op hul perseel beseer word of aan gevare blootgestel word nie. Die uitdruklike waarskuwing oor die visdammetjie wat die eienaars in hierdie geval aan die kind se ouers gegee het, was voldoende om hierdie plig na te kom. Dit was nie onredelik van die eienaars om te verwag dat die ouers van daardie punt af behoorlik oor hul kind toesig sou hou nie. Die hof bevind dat dit nodig is vir ‘n eienaar om seker te maak dat sy eiendom veilig is vir besoekers. Die eienaar hoef egter nie meer te doen as om die redelike stappe te neem om sy eiendom te beveilig nie.

Die visdammetjie was wel ‘n afwyking van die goedgekeurde planne, maar dit was slegs ‘n geringe afwyking. Dit is ook gebou op ‘n tyd voordat nuwe, strenger veiligheidsregulasies vir swembaddens en visdammetjies in werking getree het.

Wat staan jou as eienaar te doen?

Jou ooglopende bondgenoot is om seker te maak dat jou eiendom in ‘n veilige toestand verkeer. Afgesien van die regsaanspreeklikheid, wil niemand van ons verantwoordelik wees vir enige ernstige besering of selfs dood van besoekers op ons perseel nie.

Neem alle redelike stappe om jou besoekers teen gevaar te beskerm. Dit sal insluit dat jy hulle sal waarsku indien daar gevaarsituasies bestaan. Hier is nie vaste reëls nie – al die spesifieke omstandighede van elke geval moet in ag geneem word.

Dit is nodig om aan al die nasionale en plaaslike bouregulasies en veiligheidsregulasies te voldoen. Enige versuim om dit te doen, sal die risiko verhoog dat jy aan nalatigheid skuldig bevind kan word.

Praat gerus met jou prokureur oor vrywaring en uitsluitingskennisgewings wat jy op jou eiendom kan aanbring. Waar jou eiendom uitverhuur word, moet jy ook seker maak dat die nodige uitsluitings van risiko in jou huurkontrak en in jou eiendomskontrakte aangespreek word. Neem kennis dat die strekwydte van uitsluitingskennisgewings wel beperkings het. In die tweede geval hierbo, het die huiseienaarsvereniging byvoorbeeld toegegee dat hul uitsluiting onder die omstandighede oneffektief was. Algehele vrywarings het ook beperkte aanwending wanneer grondwetlike oorwegings en die Verbruikerswet van toepassing is.

Ten laaste moet jy seker maak dat jou versekeringsdekking wyd genoeg is om vir moontlike eise van besoekers aan jou perseel voorsiening te maak.

OP DIE KAARTE – NUWE MANIERE OM ONDERHOUDSONTDUIKERS VAS TE VAT

Onderhoudsontduikers sal minder gelukkig wees met die wysigings aan ons Onderhoudswet wat op 9 September 2015 onderteken is. Die doel daarmee is om die afdwinging en betaling van agterstallige onderhoud te vergemaklik.

Daar is verder voorsiening dat die agterstallige onderhoud by kredietburo’s gelys kan word. Die motivering hiervoor is dat onderhoudsontduikers dan verhoed sal word om verdere skuld aan te gaan, totdat agterstallige onderhoud op datum betaal word. Hierdie bepaling word wyd verwelkom. Ten spyte van mediaberigte tot die teendeel, is hierdie bepaling nog nie in werking nie en moet die datum nog êrens in die toekoms in die Staatskoerant afgekondig word.

WAAROM SIEN ONS NIE WESENTLIKE GROEI IN KMO’S NIE? KYK GERUS HIER NA DIE RESULTATE

Klein– en medium grootte ondernemings in Suid-Afrika moet met heelwat uitdagings werk om vooruit te gaan. Burokratiese rompslomp, beperkte geleenthede vir befondsing, oorweldigende regulasies en wetgewing – hierdie is van die meer bekende uitdagings wat oorkom moet word, aldus ‘n onlangse ondersoek van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR). Die volle verslag “2015 SME insights report” is toeganklik by http://www.saica.co.za/Portals/0/documents/SAICA_SME.PDF.

WERKGEWERS: IS JOU BELEID AFDWINGBAAR?

‘n Onlangse saak in die Arbeidsappèlhof het gehandel met die strekwydte van ‘n beleid van “geen verdraagsaamheid” teenoor oortredings in die werkplek.
Die supermark, die toesighouer en die deodorant wat nie verklaar is nie

‘n Supermark wat deel is van ‘n kettingwinkelgroep het ‘n beleid van “geen verdraagsaamheid” (“zero tolerance policy”) ingestel. Hulle doel was om winkeldiefstal aan die kant van die werknemers hok te slaan. Dit het behels dat enige werknemer, wanneer hy of sy die winkel betree het, alle goedere en items op hul persoon moes verklaar, met die uitsondering van items wat duidelik nie die winkel sin was nie.

Dit was die winkel se beleid om finale waarskuwings aan werknemers uit te reik wat hierdie beleid oortree het. Dus, enige werknemer wat versuim het om goedere te verklaar, maar wat wel oor ‘n bewys van betaling vir daardie items beskik het, het ‘n finale waarskuwing ontvang. Enige werknemer wat nie sodanige betalingsbewys kon lewer nie, is afgedank.

‘n Sekuriteitswag het ‘n onverklaarde deodorant van R11-99 in ‘n toesighouer se handsak ontdek toe sy die winkel verlaat het.

Tydens die dissiplinêre verhoor het die toesighouer erken dat die deodorant aan haar behoort het, maar dat sy vergeet het om dit te verklaar toe sy die perseel betree het. Sy kon nie bewys van betaling voorlê nie. Volgens haar het sy verwag om ‘n waarskuwing te kry vir ‘n eerste oortreding.

Sy is na ‘n dissiplinêre ondersoek deur die supermark ontslaan. Sy het haar ontslag na die KVBA verwys waar sy sonder sukses aangevoer dat ontslag nie die geskikte straf was nie. Hierna het sy dit na die Arbeidshof verwys, wat haar ontslag wel tersyde gestel het.

Die supermarkgroep het hierdie bevinding na die Arbeidsappèlhof verwys. Hierdie Hof bevind dat die werknemer nie juis ‘n goeie en betroubare getuie was nie. Tog bevind die Hof dat die ontslag wel onbillik was. Die Hof sê dan dat ‘n enkele oortreding, tensy die waarde van die items baie hoog was, nie tot ‘n billike ontslag kan lei nie. Die Hof bevind dat ‘n finale skriftelike waarskuwing ‘n meer gepaste sanksie sou wees.

Ter afsluiting

Die toepassing van ‘n beleid van geen verdraagsaamheid sal onder sekere omstandighede aanvaarbaar wees. Die ontslag van werknemers is altyd ‘n ingrypende sanksie en dit moet vir die spesifieke omstandighede geskik wees.

‘N GEBREK AAN GELD HOEF JOU NIE ALTYD TE KEER OM TE LITIGEER NIE

Soms dink jy dat jy ‘n goeie saak het, maar jy het nie die fondse om jou saak deur te voer nie. Dan kan jy altyd ondersoek instel na die moontlike aanwending van die Wet op Gebeurlikheidsgelde. In ‘n poging om regsdienste meer toeganklik te maak, kan jy sekere reëlings met jou prokureurs en advokate aangaan. Julle sou kon ooreenkom dat daar geen regsfooie betaalbaar sou wees indien julle nie die saak wen nie. Julle sou dan ook kon ooreenkom op ‘n “suksesfooi” vir die prokureurs en advokate, wat aansienlik hoër sou kon wees as die gebruiklike fooi wat normaalweg vir die litigasiedienste betaalbaar sou wees.
Suksesfooi en die Grondwetlike Hof

Dit is toelaatbaar om ‘n suksesfooi te beding. In die geval van suksesvolle litigasie, kan die suksesfooi tot twee maal die normale fooi wees. Die wet beperk dit wel tot ‘n maksimum van 25% van die monetêre bedrag wat toegeken of verhaal word. Indien ‘n suksesvolle uitkoms van R1 000 000 beding word en die normale fooi teen die gebruiklike tariewe op R100 000 sou staan, sal die maksimum suksesfooi dan R200 000 wees. Indien die fooi teen die gewone tariewe R150 000 sou wees, kan die verdubbeling van ‘n suksesfooi na R300 000 nie gebeur nie. Die wetlike perk vir ‘n suksesfooi is 25%, so die suksesfooi sal in hierdie geval nie R250 000 oorskry nie (25% van die toekenning van R1 000 000). Met ‘n suksesfooi ooreenkoms (“no win no pay”) is die wetlike beperking 25%. Die partye kan dus nie ‘n afwyking hiervan beding soos wat in die verlede moontlik was nie. Die Grondwetlike Hof het nou onomwonde beslis dat die 25% fooi die maksimum toelaatbare suksesfooi daarstel.

Ons vind dat regsverteenwoordigers dikwels in die geval van persoonlike beserings, eise voortspruitend uit motorongelukke en mediese nalatigheid op hierdie basis aangestel word. Dit kan egter in die meeste gevalle waar regseise opgestel en deurgevoer moet word, gebruik word. Die enigste uitdruklike uitsluitings is in die geval van strafregtelike aangeleenthede en in familiereg aangeleenthede.

Die prokureurs of advokate wat die opdrag aanvaar moet eerstens van mening wees dat jy ‘n redelike vooruitsig op sukses het. Dit is ‘n spesifieke vereiste van die Wet op Gebeurlikheidsgelde. Tweedens, gaan geen verantwoordelike regsverteenwoordiger ure aan ‘n hofsaak werk, indien daar geen redelike vooruitsig is dat sy kliënt suksesvol sal wees en dat die regspraktyk vergoed gaan word vir sy of haar insette nie.

Die aanstelling van die regsverteenwoordigers moet op skrif wees. Daar is voorgeskrewe bepalings oor wat alles in die suksesfooi ooreenkoms uiteengesit moet word. Die partye moet spesifiek handel met die verlangde uitkomste. Die belangrikste is seker dat hulle onderling moet ooreenkom oor wat die definisie van sukses en gedeeltelike sukses in die betrokke saak sal wees. Hulle moet ook vooraf ooreenkom oor hoe direkte uitgawes hanteer gaan word; soos die verkryging van deskundige getuies en die betaling vir mediese ondersoeke en vir regsmediese verslae.

Hou ook die volgende in gedagte

Indien beide kante van mening is dat hulle ‘n redelike kans op sukses het, het beide ‘n 50% kans dat hulle gaan wen. Die ander kant van die munt is natuurlik dat beide partye ‘n 50% kans staan dat hulle gaan verloor.

Jy moet dus ook verstaan waarvoor jy aanspreeklik gaan wees indien die saak nie in jou guns beslis word nie. Afgesien van die professionele fooie van die prokureurs en advokate wat aan jou saak werk, is daar met enige hofsaak direkte uitgawes. As kliënt wil jy duidelik verstaan wat dit behels en of jy daarvoor aanspreeklik gaan wees. Hou ook in gedagte dat die party wat die saak verloor, gewoonlik ingevolge die uitspraak aanspreeklik gehou sal word vir die teenparty se regskostes.