November 2015
“BREEK AF OF GAAN SIT AGTER TRALIES” HOF AAN ONTWIKKELAAR

“….. ‘n toegeeflike benadering is so goed soos ‘n ope uitnodiging aan lede van die publiek om soos hierdie ontwikkelaar aan te hou met die oprigting van bouwerk en strukture terwyl die voorgeskrewe toestemming nog nie deur die plaaslike owerheid verleen is nie.” Vrye vertaling uit die uitspraak hieronder.

Dertig dae – dit is hoe lank hierdie ontwikkelaar tronk toe moet gaan as hy nie sy onwettige bouwerk afbreek nie.

Wysiging aan die planne …..

‘n Eiendomsontwikkelaar het munisipale toestemming verkry om ‘n woning op sy eiendom op te rig.

Die munisipaliteit het die bouwerk kom inspekteer en gevind dat die bouwerk wesentlik afgewyk het van die goedgekeurde bouplanne. Die munisipaliteit het toe ‘n hofbevel verkry om die bouwerk tot ‘n halt te bring.

Die ontwikkelaar het hom nie aan die hofbevel gesteur nie, ook nie aan kennisgewings om sy posisie te verduidelik nie. ‘n Kennisgewing dat hy met die bouwerk moet staak en uiteindelik ‘n kennisgewing dat hy in stryd met die hofbevel optree, het ook nie die voortsetting van sy bouwerk gestuit nie.

Die saak het weer voor die hof gedien. Hy het die hof probeer oortuig dat, aangesien hy aansoek gedoen het vir ‘n vergunning om van sy bouplanne af te wyk, hy geregtig was om met sy bouwerk voort te gaan.

Die hof was nie beïndruk met hierdie argument nie. Die hof weier om hierdie optrede te aanvaar of te kondoneer en bevind hom skuldig aan minagting van die hofbevel.

Die hof maak dit duidelik dat hierdie hofverrigtinge nie net ten doel het om die hof se waardigheid te beskerm nie, maar ook moet toesien dat hofbevele in die algemeen uitgevoer moet word. Die hof vonnis die ontwikkelaar dan tot gevangenisstraf van dertig dae, wat opgeskort word vir ‘n periode van twee jaar. Die opskorting van die gevangenisstraf is onderhewig daaraan dat die ontwikkelaar die onwettige bouwerk binne dertig dae moet afbreek en dat hy die oorspronklike hofbevel in geheel moet eerbiedig en nakom.

Wat staan jou te doen indien jou buurman onwettig bou?

Ons het in vorige Nuusbriewe aangedui dat jy regshulp moet inroep sodra dit duidelik is dat daar onwettig in jou omgewing gebou word. Vinnige en gepaste regsoptrede is noodsaaklik.

Die hof het dit hier ook duidelik gestel dat afgesien van hul statutêre plig het munisipaliteite ook ‘n morele plig om toe te sien dat die wet nagekom word en dat daar aan bouregulasies en hofbevele voldoen word. Die howe sal munisipaliteite ook deeglik bystaan om hierdie pligte na te kom.

‘N DERTIENDE TJEK : IS DAAR SO ‘N JAARLIKSE VERPLIGTING?

November is op ons. Mense begin al dink aan die einde van die jaar en sommiges bespiegel oor jaarlikse bonusse. Aan die een kant kry ons vrae soos : “Besigheid is stram op die oomblik. Moet ons jaareindbonusse betaal?” en aan die ander kant klagtes soos “Ek het nog nie hierdie jaar ‘n bonus gekry nie. Wat is my regte?”

As uitgangspunt moet ons aanvaar dat daar geen outomatiese reg op ‘n dertiende tjek of ‘n bonus in ons arbeidswetgewing is nie. Daar kan wel spesifiek voorsiening hiervoor wees in ‘n indiensnemingskontrak, maatskappybeleid of dalk in ‘n oorkoepelende kollektiewe ooreenkoms vir ‘n spesifieke bedryf. Wat sê hierdie dokumente of beleide oor bonusse? Is daar ‘n waarborg van ‘n bonus? Is daar voorwaardes hieraan verbonde soos maatskappywinste wat bereik moet word, werknemers wat sekere omsette moet bereik of ander bydraes wat vooraf ooreengekom is? Het die eienaars ‘n algehele diskresie oor bonusse?

Selfs waar daar nie ‘n spesifieke ooreenkoms hieroor is nie, moet jy ook kyk na die geskiedenis en na die betaling van bonusse in die verlede. Word daar skielik afgewyk van ‘n praktyk wat al oor jare met bonusse gevolg is, kan die werknemers aanvoer dat dit ‘n eensydige wysiging is van hul diensvoorwaardes, dat daar nie met hulle oor die wysiging gekonsulteer is nie en dat dit gevolglik ‘n onbillike arbeidspraktyk daarstel. Afgesien van die voorskrifte van die arbeidsreg, moet mens ook afvra wat dit aan die werknemers se moraal gaan doen as daar ‘n algemene verwagting van ‘n bonus is, wat dan nie materialiseer nie.

Wat van werknemers wat op ‘n vaste termynkontrak aangestel is?

‘n Onlangse arbitrasietoekenning van ‘n Bedingingsraad het bevind dat waar ‘n munisipaliteit ‘n dertiende tjek aan alle voltydse werknemers betaal, dit ‘n onbillike arbeidspraktyk is om nie ook bonusse te betaal aan werknemers wat op ‘n vaste termynkontrak aangestel is nie. Wees dus versigtig om met jou diensvoorwaardes tussen ‘n groep werknemers te onderskei, terwyl hulle dieselfde of soortgelyke werk verrig.

Werknemers : Finale gedagtes hieroor

Onthou dat Jan Taks ook geregtig is op ‘n gesonde porsie van jou bonus – dikwels meer as wat jy verwag het. Voordat jy jou bonus in jou geestesoog op feesaankope gaan spandeer, lees gerus “Warning: don’t blow that bonus” op IOL.

KRUIS OF MUNT? DIE WETLIKE LIMIET VIR BETALINGS IN MUNTE (EN IETS OOR BITCOIN)

“Samsung het aan Apple $1bn betaal en wel deur die aflewering van 30 vragmotorwaens vol munte.” (Aldus ‘n gerug – vals maar wyd gepubliseer- nadat Apple in 2013 hul sogenaamde hofsaak van die eeu teen Samsung gewen het.)

Neem die volgende scenario – jy wen ‘n groot hofsaak. Ingevolge die hofbevel moet jou teenstander ‘n groot geldbedrag aan jou oorbetaal. Dan daag hy by jou op om die geldbedrag aan jou oor te betaal. Die fondse is egter in munte in ‘n konvooi vragmotors in navolging van die Apple / Samsung geval hierbo.

Scenario 2: Jy is ‘n verhuurder van ‘n perseel. Jou huurder is vir een of ander rede baie ongelukkig met jou. Dan daag hy by jou kantoor op om volgende maand se huur aan jou oor te betaal. Alles in sakke met 10 sent stukke. Wat is jou regte?

Scenario 3: Jy is die eienaar van ‘n supermark. ‘n Klant kom doen aankope en wil dan vir sy trollie goedere R500 se R1 munte aanbied – moet jy dit aanvaar?

Of jy is ‘n motoris wat ongelukkig is oor ‘n verkeersboete wat jy nooit moes kry nie. Uit moedswilligheid kom jy by die munisipale teller aan met ‘n ingewikkelde versameling van alle Suid Afrikaanse munte waarop jy jou hande kon lê. Moet die teller vir die volgende uur of wat jou versameling munte tel?

Wat is “wettige tender”?

Ons moet die antwoord gaan soek by die Suid-Afrikaanse Reserwebank se beleid oor “wettige tender”. As die betaling in wettige tender is, moet jy dit aanvaar. As jy met banknote betaal, kan enige bedrag betaal word, of dit nou met R10 of R200 note of enige kombinasie daarvan betaal word.

Daar is darem duidelike beperkinge as dit by betaling van geld in klinkende munt kom, en wel as volg vir elke individuele transaksie –

Met R1, R2 of R5 munte is die beperking R50.

Met 10c, 20c of 50c munte is die beperking R5.

Met 5c munte of selfs kleiner munte (alhoewel dit nie meer gemunt word nie, is dit steeds wettige tender) is die beperking 50c.

Sedert 2012 word die 5c nie meer gemunt nie. Reeds van daardie datum is daar al berigte dat sekere ondernemings nie 5c stukke aanvaar nie, al is dit steeds wettige tender. Indien enigiemand weier om jou betalings in wettige tender (soos hierbo omskryf) te aanvaar, kan jy hulle by die Reserwebank aanmeld en wel by 086 112 7272.

“Bitcoin”: Waaroor gaan dit?

Bitcoin vind ons heel aan die ander kant van die betalingspektrum. Dit is ‘n digitale geldeenheid en ook ‘n virtuele en informele betaalstelsel. Dit spook regoor die wêreld by regerings en reguleerders. Gedesentraliseerd. Sonder grense. Sonder enige verbintenis met enige bank of sentrale bank wat dit beheer. Anonieme bankwese. ‘n Wilde Weste kuberbankier sonder enige reguleerder in sig. Dit mag dalk met tyd verander soos wat die internasionale owerhede probeer om ‘n mate van regulasie in te bring. Owerhede sal ten minste transaksies kan monitor vir finansiële misdade soos geldwassery, die befondsing van terrorisme, belastingontduiking en verbreking van regulasies oor die uitruil van internasionale geldeenhede. Net die tyd sal leer of daar enige vordering hierin gemaak gaan word.

In Suid-Afrika is Bitcoin –

In geheel ‘n wettige manier om iemand te betaal of betaling te ontvang. Dit is egter nie wettige tender nie, so niemand kan jou dwing om betaling in Bitcoin te aanvaar nie. Indien jy in Bitcoin betaling ontvang gaan jy steeds aan FICA wetgewing en ander regulasies moet voldoen (indien jy onseker is wat dit behels, verkry advies hieroor).

‘n Moontlike beleggingsgeleentheid vir diegene wat kans sien vir risiko en onsekerheid en wat dit kan bekostig om hulle hele belegging in Bitcoin te verloor. Vir elke een persoon wat dit as ‘n beleggingsgeleentheid gaan sien, sal daar waarskynlik een honderd persone wees wat die gepaardgaande onsekerhede en risiko aan jou gaan uitwys en beklemtoon. Indien jy ten spyte hiervan steeds oorweeg om in Bitcoin te belê, moet jy ook kennis neem van moontlike grys gebiede rondom die hantering van belasting en wetgewing oor buitelandse valuta.

Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet jy duidelik weet dat jy Bitcoin in geheel op jou eie risiko gebruik. Jy geniet geen regsbeskerming nie; jy het geen waarborg van intrinsieke waarde, omskakeling of stabiliteit nie; en jy het ook die risiko van bedrog, diefstal en ongemagtigde aanwending. Diegene ten gunste van die gebruik van Bitcoin is weer van mening dat die risiko’s deur gevestigde belange heeltemal oordryf word. Vir nou lyk dit egter of ‘n skeptiese houding die veiliger opsie gaan wees – jy kan alles in ‘n oogwink verloor of jy kan binne ‘n oogwink ‘n fortuin maak – ons weet net nie watter een dit gaan wees nie.

BINNEHANDEL – LOERBROER HOU DIE SITUASIE DOP!

“Big Brother is Watching You” (George Orwell, 1984)

Indien jy betrokke is by die verhandeling van aandele in ‘n openbare maatskappy, effekte of ander sekuriteite op die JSE moet jy kennis neem van die reëls oor markmisbruik.

Die reëls is wydlopend. Dikwels hoor ons van diegene wat hiervan beskuldig word dat hulle nie geweet het dat dit op hulle van toepassing was nie. Die strafsanksies kan ingrypend wees, so bring jouself op hoogte en verkry advies indien daar enige twyfel oor die situasie bestaan.

Wat behels “binnekennis” en wie is ‘n persoon wat toegang het tot binnekennis?

“Binnehandel” is ‘n bekende vorm van “markmisbruik”. Tog dui maatskappydirekteure en verwante aandeleverhandelaars dikwels aan dat hulle nie heeltemal seker is wat toegelaat word en wat verbied word nie.

Binnekennis kan beskryf word as enige inligting wat verkry is as gevolg van die persoon se verhouding met die maatskappy ( bv. as direkteur, senior werknemer of konsultant) en wat, indien dit in die openbaar bekend was, ‘n materiële invloed op die prys of waarde van ‘n aandeel of sekuriteit, wat op ‘n gereguleerde mark verhandel word, sou hê.

Indien jy toegang tot hierdie binnekennis verkry het omdat jy ‘n direkteur, werknemer of aandeelhouer is, of as jy toegang tot die inligting verkry het deur jou diensverhouding, amp of professie met die maatskappy of indien jy hierdie inligting verkry het van iemand in so ‘n posisie, ontvang jy hierdie inligting as binnekennis.

Loerbroer slaap nooit!

Die JSE monitor deurlopend alle verhandelings vir enige ongewone bewegings in prys en volumes. Die JSE ondersoek self enige ongewone en verdagte verhandelings en indien dit nie tot tevredenheid verklaar kan word nie, word die verhandelings na die Raad op Finansiële Dienste verwys. Hier sal die verhandelings formeel deur die Direktoraat van Markmisbruik ondersoek word. Hulle beskik ook oor magte om ondervragings te hou, om toegang te verkry en om dokumente en data te deursoek en om daarop beslag te lê.

Die Raad op Finansiële Dienste beskik ook oor ‘n Komitee wat administratiewe boetes aan oortreders kan oplê of wat die oortreding vir strafregtelike vervolging sal verwys.

Die Hof bekragtig die boete van R1 miljoen

Die Hoë Hof het onlangs die oplegging van ‘n boete van Een Miljoen Rand aan ‘n individu en sy maatskappy bekragtig. Hier was hulle in die proses om oor tyd aandele in ‘n publieke maatskappy op te koop met die doel om die beherende aandeelhouer te word. Dit was nie algemeen bekend dat die maatskappy intussen ‘n lening van R99 miljoen van die NOK verkry het om hierdie aandele mee aan te koop nie.

Die kopers het aangevoer dat hulle niks verkeerd gedoen het nie. Die Raad op Finansiële Dienste daarenteen het hulle skuldig bevind aan binnehandel en het ‘n boete van R1 miljoen Rand opgelê. Hulle moes ook die kostes van die proses betaal. Hierdie was nie ‘n strafregtelike vervolging nie, so die RFD kon onafhanklik en vinnig optree. Omdat dit ‘n siviele aangeleentheid was, hoef die RFD ook nie sy saak bo redelike twyfel te bewys het nie, maar wel op ‘n oorwig van waarskynlikhede.

Die maatskappy het die RFD se bevinding na die Hoë Hof op appèl geneem. Die Hof bevind egter dat die bevinding reg was en die RFD sal dus in die toekoms ook in gepaste gevalle voortgaan met groot boetes. Hier het die belegging in die aandele later ook waardeloos geraak, toe die maatskappy gelikwideer is. Die hof meld ook dat hierdie latere likwidasie nie relevant is by die beoordeling van binnehandel nie; die optrede word eerder beoordeel op die tydstip wanneer die binnekennis wel openbaar gemaak word; latere prysskommelings word nie in ag geneem nie.

NOVEMBER SE WEBWERF: WAT IS “WOT”? TOETS JOU WEBWERF

Wanneer jy aanlyn navraag doen oor enige diens of produk of selfs net inligting, sal jou gebruiklike soekenjin ‘n hele lys moontlike webwerwe aanbied. Jy kies dan self watter webwerf jy gaan besoek.

Hoe sal jy nou weet of die webwerf veilig is om te besoek? Kan dit dalk ongewenste sagteware op die agtergrond na jou rekenaar oordra? Hou dit dalk ‘n bedrieglike aanlynaanbod aan niksvermoedende verbruikers voor? Is die skakels betroubaar? Kan jy met vrymoedigheid aanlyn handel?

Natuurlik staan jou rekenaar of netwerk se anti-virus en beskerming teen ongewenste sagteware reeds in die eerste linie teen die kuber-aanslae. Daar is egter gesofistikeerde gevare wat deur daardie net kan glip.

Veiligheid eerste

Dan is daar WOT (“Web of Trust”). Dit is ‘n gratis toevoeging tot soekenjins soos Chrome, Firefox, Internet Explorer, Opera en Safari. Dit gee vir jou saamgevatte terugvoering oor hoe miljoene gebruikers die webwerwe ervaar het uit die hoek van geloofwaardigheid en kinderveiligheid. Die eenvoudige aanduidings langs die webwerf bestaan uit ‘n groen sirkel vir “goed”, ‘n rooi sirkel is “sleg” en ‘n geel sirkel waarsku jou om versigtig te wees. ‘n Blou vraagteken op ‘n grys sirkel beteken dat die betrokke webwerf nog nie deur genoeg internetgebruikers beoordeel is nie.

WOT kan gratis afgelaai word by www.mywot.com.

Belangrik: Toets gereeld jou eie webwerf. Indien WOT enigiets anders as ‘n groen sirkel wys, beteken dit dat moontlike kliënte waarskynlik tot by jou webwerf kom, maar dan afgeskrik word deur die negatiewe WOT aanduiding en dan elders verder gaan soek. WOT hanteer Reputasie aangeleenthede onder hul standaard FAQ’s met riglyne om jou weer vinnig op groen te kry.

Uit die HAT 6e Uitgawe 2015:

“krooskarweier” (informeel) : ruim gesinsvoertuig soos ‘n bussie of stasiewa.

Net die beste vir November en swerf te alle tye veilig met jou rekenaar