Honde wat aanhoudend blaf? Bure wat rumoer en ‘n interdik as opsie

ArticleImage

“Nuisance usually involves repeated infringement of the Plaintiff’s property rights. An objective weighing up of the interests of the various parties, taking into account all the relevant circumstances is required in these matters” (Geneem vanuit die uitspraak hieronder.)

Indien die honde langsaan nie ophou met blaf nie en dit jou direk raak, lees gerus verder.

‘n Onlangse saak in die Hoë Hof wys vir ons hoe die reg ons in die algemeen teen rumoerige bure sal beskerm.

Die Chihuahua

‘n Landelike ontwikkeling spog met vrylopende wilde diere, waaronder kameelperde, koedoes en vlakvarke. Die eienaarsvereniging se reëls bepaal gevolglik dat geen troeteldiere of plaasdiere op enige openbare ruimte, straat of privaat eiendom in die landgoed aangehou mag word nie.

Die eienaarsvereniging het wel spesiale toestemming aan ‘n huisgebonde inwoner verleen om ‘n miniatuur chihuahua aan te hou. Die inwoner was tydelik huisgebonde nadat hy in ‘n motorongeluk beseer is. Die vereniging het dit duidelik gemaak dat die toestemming teruggetrek kon word, indien daar enige klagtes sou wees.

Die bure het formele klagtes ingedien met die strekking dat die hond van vroegoggend aanhoudend sou blaf. Die vereniging het die toestemming om ‘n hond aan te hou weer ingetrek. Hierna het hulle by die hof aansoek gedoen vir ‘n interdik om die hond se eienaar (en sy moeder wat ook in die huis gewoon het) te verbied om die hond langer op die landgoed aan te hou.

Die hof kon nie bepaal of die inwoners aan die vereniging se bestuursreëls gebonde was nie. Die hof het wel die interdik toegestaan op die gemeenregtelike beginsels van oorlas. Die hof bevind dat die bure daarop geregtig was om hul eiendom en die omringende natuur in vrede en rustigheid te geniet. Die wyse waarop die inwoners hul eiendom benut en spesifiek die aanhou van ‘n blaffende hond is nie versoenbaar met algemeen aanvaarbare buurmanskap nie.

Die hof het die uitspraak redelik getemper, waarskynlik as gevolg van die brose geestestoestand van die inwoner, wat ook ‘n moontlike selfmoordpoging ingesluit het. Die hof maak ‘n voorwaardelike bevel – die hond kan bly, maar onderhewig aan duidelike voorskrifte. Die hond moet binne die huis aangehou word, die hond moet onder deurlopende toesig wees en die hond se eienaar moet pro-aktiewe stappe neem om seker te maak dat dit nie ‘n oorlas vir die bure en ander eienaars in die landgoed is nie.

Vier stappe wat jy kan probeer om dinge aan te spreek voordat jy hof toe draf

Indien jy met ‘n regsproses gaan afskop, sonder enige waarskuwing of sonder enige direkte versoeke aan die troeteldier se eienaar, gaan daar geen wenners wees nie. Begin eerder met ‘n vriendelike aanslag en mik na ‘n wen-wen situasie. Gelukkig is daar ‘n stap vir stap WikiHow artikel wat van hulp kan wees “How to Deal With a Neighbor’s Barking Dog” hier beskikbaar.

Indien dit nie werk nie, kan jy die situasie steeds sinvol beredder. Kyk of julle kan ooreenkom op ‘n proses van mediasie of arbitrasie. Gee dan aan jou regsverteenwoordiger opdrag om die nodige reëlings te tref. Indien jy in ‘n Gemeenskapskema woon met ‘n Huiseienaarsvereniging of Regspersoon wat gemeenskaplike aangeleenthede hanteer, kan jy die Gemeenskapskema se Ombuddiens nader om die dispuut teen ‘n lae voorgeskrewe fooi aan te hoor en te besleg.

Jy kan ook by jou plaaslike owerheid of munisipaliteit aanklop om die munisipale verordeninge oor die aanhou van diere, uitermatige geblaf, onredelike geraas en oorlas en rusverstoring in die algemeen te verhoed en die verordeninge af te dwing en toe te pas.

Die SAPD sal gewoonlik slegs in ernstige gevalle van oormatige geraas op ‘n klagte reageer. Indien jy hulle wel so ver kan kry om te reageer, kan ‘n enkele besoek van ‘n polisiebeampte al reeds die gewenste resultaat oplewer.

Om hof toe te gaan behoort slegs as ‘n finale opsie oorweeg te word, nadat alle ander moontlikhede probeer is, maar sonder sukses.

Die regter spreek van die begin van sy uitspraak sy duidelike misnoeë met die partye uit omdat hulle nie in staat was om die dispuut onderling uit te sorteer nie.

Uiteindelik moet jy steeds weet, dat dit nie nodig is om ‘n aanhoudende en langdurige stoornis of getjank of gekef onbepaald te verduur nie. Daar is verskeie maniere waarop ons reg jou van hulp kan wees.