“There’s no such thing as a free lunch” (Die ekonoom Milton Friedman se siening.)



In hierdie dae van aanlyn bankdienste en elektroniese betalings is dit nie ongewoon om met ‘n skok te besef dat jy ‘n foutiewe betaling aan iemand gemaak het nie. Óf na die verkeerde ontvanger, óf die verkeerde bedrag. As dit met jou sou gebeur, en die ontvanger weier om jou terug te betaal, wat kan jy daaraan doen?

Die ander belangrike vraag is natuurlik of die gelukkige ontvanger van ‘n onverklaarbare en onverwagte betaling in sy bankrekening kan voortgaan en die meevallertjie spandeer? Die antwoord hierop is ‘n baie besliste “nee”. Daar mag nog ‘n paar dinge in die lewe wees wat werklik verniet is, maar hierdie is nie een daarvan nie.

‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof hanteer die vereistes vir ‘n suksesvolle eis vir “ongeregverdigde verryking”. 


Die bank se toepassing en die betaling van R861,940

n Banktoepassing 

  • ‘n Getroude paartjie was die begunstigdes van ‘n fout in hul bank se toepassing (“app”). Die banktoepassing het nie gewerk soos wat dit moes nie.
  • As gevolg van die fout, ontvang hulle dubbele betalings in hul twee rekeninge, in die totaal van R861,940.
  • Die bank het die paartjie gedagvaar om die geld terug te betaal, aangesien hulle ten koste van die bank “ongeregverdigd verryk” is.
  • Die paartjie het aanvanklik ontken dat enige duplisering van betalings gebeur het. By die verhoor sing hulle ‘n ander deuntjie. Hulle erken dan dat hulle wel die dubbele betalings ontvang het, maar voer aan dat hulle dit in kontant aan die bank terugbetaal het.
  • Die man beweer dat hy die geld aan ‘n werknemer van die bank  terugbetaal het, wat die kontant in ‘n kluis geplaas het vir “ingeval iemand dit kom opeis”. Die betrokke bankamptenaar is intussen oorlede. Die man kon nie sê hoeveel geld hy oorhanding het nie, hy kon nie datums verskaf nie, en hy het geen kwitansies of ontvangsbewyse aangevra of ontvang nie. Die verhoorhof aanvaar sy getuienis en die bank se aanvanklike eis misluk.
  • Die bank neem die uitspraak op appèl na ‘n “volle regbank” (‘n “volle hof” van drie of meer Hooggeregshofregters). Hierdie hof verwerp die man se weergawe as “inherent onwaarskynlik”. Die getroude paar word beveel om al die geld aan  die bank terug te betaal, tesame met rente en regskostes.


Wat moet jy bewys?

Die vereistes vir ‘n eis van “ongeregverdigde verryking” is die volgende – 

  1. Die ontvanger is inderdaad deur die ontvangs van die geld verryk (dit hoef nie geld te wees nie, dit kan ook ‘n ander bate wees)
  2. Jy is deur die oorgawe van die geld (of bates) “verarm” 
  3. Die ontvanger is verryk, en sy verryking geskied ten koste van jou
  4. Daar bestaan geen wettige basis wat die verryking regverdig nie.

Die Hof (volbank) beslis dat, nadat die getroude paar erken het dat daar nie ‘n wettige basis was waarop hulle die geld ontvang het nie, die onus (bewyslas) na hulle verskuif het om te bewys dat daar geen verryking aan hulle kant was nie. Die feit dat hulle nie kon bewys dat hulle die geld teruggegee het nie, het dus die einde van hul saak beteken.

Moenie moed verloor as die feite van jou saak nie noodwendig al die vereistes wat hierbo uiteengesit word, bevat nie. Ons regstelsel hou dalk ander oplossings en regsremedies vir jou in. Vra jou prokureur vir advies